Dagstukkies
DROOM GROOT … MAAR …
Ellen Johnson Sirleaf was die eerste vrou wat as staatshoof van ‘n Afrikastaat gedien het. Sy was die president van Liberië vanaf 2006 tot 2018.
Tydens ‘n toespraak het sy die bekende woorde gebruik wat toenemend as inspirerende woorde tydens baie geleenthede gebruik is. Sy het gesê:
“The size of your dreams must always exceed your current capacity to achieve them. If your dreams do not scare you, they are not big enough.”
Hierdie woorde is waar, behalwe … dit laat God se betrokkenheid buite rekening. Dit fokus uitsluitlik op die mens se vermoë om deur groot drome sy toekoms te verbeter of te beïnvloed.
Hoewel die Bybel nie direk groot drome of ideale aanspreek nie, blyk dit duidelik uit talle verse dat God se betrokkenheid nie weggelaat kan word nie.
Ps 32:8(1983 vertaling) lui: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.”
Ef 3:20 (1983 vertaling) lui: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink …”
Die mens het egter ‘n groot verantwoordelikheid in die bereiking van drome. Soos ‘n goeie vader, moeder, mentor, vriend of onderwyser wil God graag hê dat die mens die eerste stap moet neem en sy drome en ideale met Hom bespreek en om Sy leiding vra.
Geen droom sal te groot of onrealisties wees as dit met die hulp God gedoen word nie. As dieselfde God wat teenwoordig was toe die reuse Goliat deur die tenger Dawid verslaan is, teenwoordig is in jou drome en ideale, is niks onmoontlik nie.
Deur Lukas Kruger
012 335 0611 | 067 723 5359 | kerkkantoor@ngmootvallei.co.za
